Properse maniere…

Dit is amper tyd vir die Laatlam se verjaarsdag partytjie.  Ons het sommer besluit om ná die tyd ‘n dop-en-tjop te hou, aangesien almal aan my karring vir ‘n lekker house-party.  Dan hang die braaivleis-rook dik oor ons erf.  Later, as almal klaar geëet het, dan word die kerse aangesteek, die tafel en stoele weggeskuif en die musiek word harder.  En geen getokkel op jou selfoon nie – ons is nie kinders nie!  Maatjie-ma se partytjies is altyd ‘n wenner…

Daar is ongelukkig net een ding wat my verfoei, en dit is dat ons mense se maniere besig is om vir ‘n bol kak te gaan!  Nou praat ek van die kinder-partytjies én die grootmens-partytjies.  Ek het dit die naweek nou weer gesien.  Een van die Laatlam se maatjies het ‘n verjaarsdag partytjie gehou.  Sewe mammas het laat weet dat hul kinders gaan kom.  Op die ou einde was daar net twee wat opgedaag het.  Ek meen, jy is mos ‘n drol as jy nie by jou woord hou nie!  Al kom jy net vir ‘n halfuur om ‘n geskenkie af te laai en ‘n stukkie koek te eet.   Hospitaal-sake en dood is die enigste aanvaarbare verskoning.

As ek onthaal, dan gaan ek voluit!  My ouma het my geleer jy doen ‘n ding ordentlik of jy los dit.  Ek het baie moeite ingesit met die Laatlam se partytjie.  Selfs die uitnodigings self gemaak, met baie bling en sulke goed.  Ek het ‘n springkasteel gehuur en tafeltjies met overlays en stoeltjies met oortreksels.  Ek het die mooiste centre-pieces gemaak wat by die Frozen-tema pas en wat sommer na die tyd gebruik kan word vir die opskep-tafel.  Nou wag ek maar en kyk wie se mammas ook deel van die generasie is wat hul maniere verloor het.

En, glo my… hulle gaan van my hoor!

Ek het ‘n vriendin wat geneig is om my altyd op die nippertjie in die steek te laat.  Blykbaar is dit haar man wat die drol in die drinkwater is maar daai is nou nie my probleem nie.  Toe ek die mister se veertigste verjaarsdag-partytjie gereël het, toe hoor ek so tussen die lyne dat sy baie upset is omdat sy en haar man nie onder die genooide gaste is nie.  Nou kyk, ek maak nie gebruik van kanale om te kommunikeer nie.  Ek verkies dit om persoonlik ‘n ding aan te pak.  Ek het haar toe gebel en vir haar gesê dat ek verneem dat sy ongelukkig is omdat sy nie ‘n uitnodiging gekry het nie.  Ek het haar toe mooi vertel dat ek met so ‘n geleentheid moeite doen en, dat elke gas wat my drop, vir my onnodig geld en moeite kos.  Dat dit ongeskik is en dat sy en haar man maniere moet leer voordat ek hulle weer op my gastelysie sit.  Ek staan nie vir ongemanierdheid nie.

Dieselfde met die Mister se een kollega.  Ek nooi haar en haar man eenvoudig nie meer nie.  En sy is ook deeglik bewus van my redes.  Once bitten, twice shy.  O, o… en as jy hulle nie meer nooi nie, dan unfriend hulle jou sommer op Facebook!  Gaan mal!

Kyk, kom eerder met een of twee ongenooide gaste by my huis aan.  Almal wat nie pedofiele is nie, is welkom.  Ek máák plek vir jou.  Jy is méér as welkom.  Maar die dônner weet!  Moenie vir my RSVP dat jy kom en dan daag jy eenvoudig net nie op nie!

94e9122abbd3461df628331ca9d2cb1c

Lewer kommentaar