Ek “doen” nie koek nie!

My ma is ‘n bobaas koek-bakker.  Van lekker nat “chocolate-mousse” koeke tot koeke met Astro’s in die middel.  Nee, sy kan maar.  Dan maak sy nog sulke ou-gat tierlantyntjies met “royal icing” en dit is te mooi vir woorde.  Jy voel te kak om dit te eet.  Daai koek-talent het ek ongelukkig nie by haar geërf nie…

Verlede jaar toe die Laatlam verjaar het, toe oortuig die mister my om nog net één maal te probeer koek bak.  Ek het een van Ina Paarman se “ready-mix” koeke gaan koop, ‘n kitsmengsel van ‘n winkel wat koek-maak goeters verkoop én ek het bestanddele gekoop vir ‘n koek resep uit die Kook En Geniet wat ek by my oorle’ ouma geêrf het.  Ál drie koeke het geflop!  Ina Paarman sal haarself seker betjorts!  En nee, ek het nie die oond oopgemaak terwyl die koek nog binne-in was nie.  Ja… ek het die bestanddele gesif.  Ja… ek het strooisuiker in pleks van gewone suiker gebruik.  Julle kan my niks vertel nie! Ek was so befok ek het op ‘n hopie gaan sit en ween… met ‘n glas rooi in die hand.  “Watse ma kan nie eers koek bak nie?  Mewwww-wwww…”

“Dit is jou oond… Hy seël nie behoorlik nie.” Is my ma se verweer.  “Dit is omdat jy ‘n Deefy het.  Dis baie stupid oonde…” sê my skoonma.  Wat ek natuurlik nie sluk nie, want my brode kom altyd lekker uit.  Ek “like” net eenvoudig nie van koek-bak nie.  My hart is nie daarin nie.  Enige ding kom mos kakkerig uit as jy dit nie regtig wil maak nie.  Bak-en-brou moet met liefde en geesdrif geskied.  Nie sleepvoet en gedwonge nie.

Gee my  net tyd en ek sit vir jou ‘n feesmaal voor.  Ek gebruik graag vars kruie wat ek dan kap met ‘n  kruie “chopper” wat my ouma nog doerie-jare terug êrens in Frankryk gekoop het en wat sy pad tot by my gevind het, nog geseël in sy wit boksie wat al geel was van ouderdom (my ouma het graag goed gekoop en daarvan vergeet.  Ek dink dit is ‘n siekte…).  Skaapboud gestop met knoffel en roosmaryn en bedrup met olyfolie en balsamiese asyn.  Breë skywe pampoen gebraai in lemoen en botter (asseblief, Margarien word op brood gesmeer, jy kook nie daarmee nie!).  Romerige mosselsop gaargemaak in ‘n swart dikboompot, met baie pietersielie.  Dan slurp jy die sous op met ‘n sny vars potbrood wat op die kole gaargemaak word.  Of Aartappels in botter-en-witwyn sous met Tiemie.  Pasta gemaak met vars tamaties, knoffel, sprietuie en wyn.  Peri-peri fillet (medium rare, nié “well-done-to-fucked-up nie”!) saam met vars broodrolletjies gevul met ‘n kaas-en-knoffel witsous.  Tamatiebredie saam met rys wat die laaste rukkie in room en botter gekook is.  Soetpatats gebraai in botter en bruinsuiker saam met bros-gebraaide blokkies spek.  Daai is my taal.  Nie dônnerse koeke nie!

Nou is dit weer sulke tyd.  Die Laatlam word vier.  Haar eerste verjaarsdagpartytjie.  My ma karring aan my om ‘n koek te bak.  Nogals ‘n “Frozen-koek” (nee, my ma is nie lus om koek te bak nie).   Die enigste “Frozen” wat ék doen is om my hare platinum blond te kleur.  Ja, ek stap net by ou Barry se salon in en “tune” hom my hare moet soos Elsa s’n lyk.    Dan lag en lag ons en drink Vodka en “Dry Lemon” en ek sit op die ou einde met geel hare, maar kom ons praat eerder nie daaroor nie…  ek dwaal nou van die punt af.

Mense soos ék is geskape sodat mense soos die tannie by die tuisnywerheid ‘n lewe kan maak.  Ek gaan nie meer sukkel nie.  Jy hét dit of jy het dit nie.  Ek kan nie koeke bak nie.  Maar ek sal jou op ander maniere vet voer!  En met baie liefde!

ea2725ff97383e8f8a80559203bb585a

d880076abeb5d2db5be80a63fb5c8d7a

d1b2fd850b3321106fca02a136519e74

bb5848d4f928399bdafc953bb1837779

4926d878afdcdaa2742371f111bfc779

8f337ae3acc27efae3354b8b18fcd8b5

7 thoughts on “Ek “doen” nie koek nie!

  1. Hehe,is dit jou pogings langs die voorbeelde?Ek is net so hopeloos met bak en selfs kosmaak.As ek langer as ‘n halfuur in ‘n kombuis moet spandeer,voel ek lus om my polse met ‘n groentemes oop te kerf!

    Like

Lewer kommentaar